Die Fakulteit Regte beskou gemeenskapsbetrokkenheid as ’n belangrike deel van sy kernaktiwiteite. Gemeenskapsdiens word hoofsaaklik verskaf deur die lewering van regsdienste aan die armes ten einde aan hulle toegang tot geregtigheid te gee en ’n verbintenis by die studente te kweek om ’n samelewing te bou wat op demokratiese waardes, toegang tot geregtigheid en fundamentele menseregte gegrond is. Hoewel die Regskliniek op die Mahikengkampus en die Regskliniek op die Potchefstroomkampus feitlik uitsluitlik die gemeenskapsdienswerk van die fakulteit hanteer, is talle van die personeel en studente van die fakulteit ook persoonlik by verskeie nieformele gemeenskapsprojekte betrokke.

Gemeenskapsdiens word in die finale jaar gelewer en ingeskerp onder die vaandel van die Regspraktyk-modules (IURI 414 en IURI 422), wat daarop gemik is om studente bekend te stel aan die ideale van toegang tot geregtigheid en die verwesenliking van maatskaplike geregtigheid. Hierdie modules is ontwerp om aan finalejaarstudente ’n verskeidenheid praktiese prokureursvaardighede te verskaf, wat onder andere konsultasie; onderhoudvoering; die afneem van verklarings; die opstel van regsdokumente; probleemoplossing; regsontleding; professionele gedrag; etiese gedrag; optrede as advokaat in die hof en hofvaardighede; en korrespondensie met ander prokureurs insluit. Hierdie modules is verder ontwerp om die gaping tussen die teorie van die reg, wat in verskillende substantiewe regskursusse geleer word, en die beoefening van die reg te oorbrug.

Die jaarverslae deur die Sentrum vir Gemeenskapsreg en die Regskliniek demonstreer die omvang van die dienste wat aan armes en die breër gemeenskap regoor Noordwes en Mpumalanga gelewer word. Die Regskliniek in Mahikeng en die Regskliniek in Potchefstroom is albei deur die NWU vir hulle gemeenskapsdiens erken en beloon.

Regskliniek in Mahikeng
Regskliniek in Potchefstroom