Bekendstelling: Eerstejaarregsstudente

Dit is ʼn voorreg om u as deel van die uitgebreide NWU familie te verwelkom. Ons het dit goed gedink om sekere basiese inligting aan u deur te gee sodat u, u eerstejaar kan ondersteun deur hierdie jaar van aanpassings. Bewaar gerus hierdie skrywe vir toekomstige verwysing. Tydens die Fakulteit se akademiese oriënteringsessie en registrasie sal alle akademiese inligting aan studente deurgegee word. Ons sal alles wat u kind moet weet oor onder andere vakkeuses, registrasie, roosters, toetse en eksamens verduidelik. Moedig asseblief u kind aan om al die sessies wat deur die fakulteit aangebied word, by te woon. As hulle dit nie doen nie, is hulle nie op hoogte van die akademiese aktiwiteite nie, en dit mag hulle later duur te staan kom. Die Registrasie- en Oriënteringsprogram 2018 is elektronies beskikbaar

Amptelike kommunikasie met studente

eFundi is ʼn interaktiewe webgebaseerde platvorm wat deur die NWU geskep is vir kommunikasie met studente. Alle studente kry toegang daartoe sodra hul geregistreer is. Daar is ʼn ruimte vir elke module (vak) wat aangebied word by die NWU en u kind het toegang tot die ruimtes van die modules waarvoor hy/sy geregistreer is. Aankondigings, werkopdragte, toetsinligting, leermateriaal, addisionele leesmateriaal en punte word deurgaans op eFundi geplaas. Studente wat nie op kampus woon nie, kan die rekenaarlokale op kampus gratis gebruik of deur hul eie internetverbinding toegang kry tot die NWU-netwerk.

Kommunikasie met ouers

Amptelike uitslae en rekeninge word na studente se e-posadres gestuur. Ons stuur twee keer per jaar ʼn elektroniese nuusbrief uit aan alle ouers van wie ons e-pos-adresse op rekord het. U kind moet asseblief tydens registrasie al u korrekte kontakbesonderhede hê en sorg dat dit opgedateer word indien dit wysig. Ons wil u ook graag aanmoedig om enige kommentaar of terugvoer aan die fakulteit te stuur na ons generiese e-pos adres: Law@nwu.ac.za

Fakulteits Administrateur

Mev. Alpha Marais

MAFIKENG KAMPUS

Waarnemende Uitvoerende Direkteur: Voorgraadse Programme

Mnr. Tjaart Viljoen

POTCHEFSTROOM KAMPUS

Direkteur: Voorgraadse Programme

Professor Flip Schutte

VAALDRIEHOEK KAMPUS

Adjunk Direkteur: Voorgraadse Programme

Dr Ilyawambwa Mwanawina

Administratiewe Assistent

Mnr. Mqakama Radebe

Studiemateriaal

Elke student kry in elke module ʼn studiegids wat die raamwerk vorm van die semester se werk in die betrokke module. Die gidse se koste is ingesluit by die klasgelde en u kind sal na registrasie gehelp word om sy/haar gidse af te haal. Studente moet voorgeskrewe handboeke self koop. Daar word van studente verwag om selfstandig addisionele studiemateriaal op te soek en te gebruik – dit word normaalweg in die biblioteek of via die biblioteek se webwerf gedoen. Studente dra self kopieerkostes maar die elektroniese aflaai van dokumente op studente se eie apparatuur is gratis.

Klasbywoning en studie-ure

Regstudente het ongeveer twee periodes klas in elke module per week. Dit is dus uiters noodsaaklik dat elke klas bygewoon word. Daar word verder van regstudente verwag om selfstandig groot volumes leeswerk af te handel en klasvoorbereiding te doen. Die program is so ontwerp dat ʼn regstudent deurgaans 40 ure per week aan sy/haar studies behoort te spandeer.

Toetse, opdragte en eksamens

Studente word deurlopend in elke module geassesseer. Assesserings kan die vorm aanneem van geskeduleerde- en onvoorbereide toetse, mondelinge en individuele- of groepsopdragte soos deur die dosent bepaal. Hierdie assesserings bepaal die student se deelnamepunt in ʼn module. Studente wat assesserings misloop weens siekte of ander geldige redes, moet die prosedure volg wat deur die betrokke dosent bepaal is om die assessering in te haal (binne 7 dae nadat die toets afgeneem is). Dosente mag besluit hoe deelnamepunte bereken word en dit verskil van module tot module. Inligting oor die berekening word in die studiegids en op eFundi aan studente beskikbaar gestel. Normaalweg is die minimum deelnamepunt vir eksamentoelating 40%. Daar word ʼn toegewing gemaak vir bona fide eerstejaarstudente – in hul eerste semester is die toelatingspunt 35%. ʼn Student se modulepunt is die gemiddeld van sy/haar deelnamepunt en eksamenpunt. Regstudente moet ook ʼn minimum van 45% in die eksamen behaal om ʼn module te slaag, ongeag hoe hoog die deelnamepunt is.

Regstudente mag aansoek doen om hul nagesiende antwoordboeke na afloop van die eerste eksamengeleentheid te besigtig tydens die insae-proses en mag teen die voorgeskrewe fooi aansoek doen vir hernasien daarvan. Die prosedures hiervoor word op eFundi gepubliseer. Alle studente wat eksamentoelating het, maar nie tydens die eerste eksamen slaag nie of om welke rede ook al nie die eerste eksamen kan skryf nie, mag die tweede eksamen skryf, maar dan word ʼn administratiewe fooi per module gehef. Daar is geen siekte- of spesiale eksamen nie, studente moet een van die twee geskeduleerde eksamengeleenthede gebruik of die module herhaal.

Beskikbaarstelling van punte

Punte vir toetse, opdragte of ander assesserings tydens ʼn semester, asook deelnamepunte, word op eFundi beskikbaar gestel aan studente. Toets- en opdragpunte word binne 15 werksdae beskikbaar gestel. Studente moet deurgaans hul punte kontroleer en enige fout binne 7 dae met die dosent opneem. Nagesiende toetse en opdragte word slegs in die klas uitgedeel en moet veilig bewaar word totdat die module afgehandel is. Vir kontrole van deelnamepunte word spesiale reëlings getref.

Eksamenpunte word binne agt werksdae nadat die vraestel geskryf is, beskikbaar gestel aan studente. Dit kan op die volgende wyses verkry word:

•               Die eksamenuitslagbrief word na studente se e-posadres gestuur

•               NWU se webwerf http://www.nwu.ac.za

•               SMS nwu(spasie)studentenommer na 35606

Geen punte word telefonies beskikbaar gestel nie. U kind het deurgaans elektroniese toegang tot al sy/haar punte en kan dit vir u aflaai of u van ʼn uitdruk daarvan voorsien. Personeel van die fakulteit is nie veronderstel om akademiese of persoonlike inligting aan ouers of enige derde party te verstrek nie. Vra gerus u kind om die nodige inligting aan u te verskaf of om u in staat te stel om toegang daartoe te verkry.

Dosente en spreekure

Dosente is die student se eerste kontakpunt indien hy/sy enige navrae oor ʼn betrokke module of punte het. Dosente is normaalweg verantwoordelik vir die aanbieding van meerdere modules en het ook ander administratiewe en navorsingstake – daarom het elke dosent vaste spreekure waartydens studente hul kan nader met probleme. Die dosente se kantore is geleë in die Ou Hoofgebou (F5) en hul spreekure word op eFundi gepubliseer. Afsprake kan in dringende gevalle ook buite ʼn dosent se spreekure gemaak word deur die sekretaresse te versoek om ʼn afspraak te skeduleer of deur ʼn e-pos aan die dosent te stuur. Dosente se kontakbesonderhede is op eFundi en in elke module se studiegids beskikbaar. Studente word aangemoedig om per e-pos navrae te rig, ter wille van rekordhouding en die aanleer van formele, skriftelike kommunikasievaardighede.

Probleme

Dit is belangrik dat regstudente van meet af leer hoe om hul eie akademiese vordering te bestuur en hul probleme volgens die voorgeskrewe reëls en prosedures op te los, aangesien hulle hierdie vaardighede moet gebruik wanneer hul binne ʼn paar jaar namens kliënte optree. Ons behandel die prosedures en reëls uitvoerig met hulle tydens die oriëntasieprogram en dit word ook elektronies aan hulle beskikbaar gestel. Aangesien ons aanvaar dat ons studente volwassenes is, verwag ons dat hulle hul eie akademiese probleme in die eerste plek self oplos. Eers nadat studente self die voorgeskrewe prosedures gevolg het, kan ouers of ander belanghebbendes toetree. Ons vra u begrip en ondersteuning in die verband!

Indien ʼn student nie ʼn akademiese probleem kan oplos deur ʼn gesprek met of e-pos aan ʼn dosent nie, word ʼn studenteversoekvorm ingevul waarin die probleem en versoek uiteengesit word. Alle studenteversoeke is op eFundi beskikbaar en moet elektronies voltooi en ingedien word na Law@nwu.ac.za. Die Administratiewe Administrateur, mevrou Alpha Marais en/of die Direkteur: Voorgraadse Programme, sal die versoek hanteer. Indien die student wil appelleer teen die uitslag van die versoek, kan hy/sy dit skriftelik doen en indien by die Waarnemende Uitvoerende Dekaan, professor Stephen de la Harpe. Hou asseblief in gedagte dat alle versoeke hanteer word binne die perke wat deur die universiteit se akademiese reëls gestel word. Alle amptelike terugvoer insake studenteversoeke en -navrae sal na die student se e-posadres gestuur word.

Dankie dat u, u kind se tersiêre opleiding aan ons toevertrou. Ons maak erns met regsopleiding en vertrou dat u kind die volgende paar jaar as student aan hierdie fakulteit terdeë sal geniet.

Waarnemende Uitvoerende Dekaan en bestuur, Fakulteit Regte