Die Regskliniek vorm deel van die Fakulteit Regte van die Noordwes Universiteit Potchefstroomkampus.  Die Regskliniek is betrokke by ʼn aantal projekte wat betref gratis regsdienste, gemeenskapsuitreik- en kapasiteitsbou-programme sowel as adviesdienste.  Die Regskliniek is werksaam in die Provinsies van Noordwes en Mpumalanga waar hierdie aktiwiteit plaasvind.

Die gemelde aktiwiteite is gerig op die volgende projekte:

  • Opleiding: Die praktiese regsopleiding van studente in die LLB graad van die NWU.  Kortkursusse vir regspraktisyns en pararegslui.  Opleiding van lede van die gemeenskappe waar die Regskliniek werksaam is.
  • Regsdienste: Die Regskliniek lewer gratis regsdienste aan behoeftige mense in die gemelde provinsies.
  • Kinderregeenheid: Die Regskliniek bedryf ʼn spesialis Kinderregeenheid en tree op namens kinders in verskeie aangeleenthede waarin hulle betrokke is, waaronder plasing in plekke van veiligheid, aannemings ens. Ook die regte van kinders wat, onder andere, molesteer word, word behartig.
  • Adviesdienste: Voorts lewer die Regskliniek ook adviesdienste aan lede in gemeenskappe om ʼn “regte-kultuur” te bevorder in plaas daarvan dat sodanige lede die reg in die hande neem ten einde dit af te dwing.

Die Regskliniek bestaan uit Prokureurs, Kandidaat Prokureurs, Pararegslui en Administratiewe personeel wat betrokke is by die lewering van die gemelde dienste.

Die Regskliniek het, op enige gegewe stadium, ongeveer 1 500 lêers op hande waarin die kliniek namens kliënte optree.  Die gemiddelde aantal persone wat jaarliks bygestaan word beloop ongeveer 7 000 mense.  Die aantal persone in gemeenskappe en leerders wat jaarliks bereik word in die uitreikprogramme beloop ongeveer 5 000 mense.

Om suksesvol te wees in die bereiking van sy doel werk die Regskliniek saam met ʼn aantal organisasies soos Regshulp Suid Afrika, Staatsdepartemente, Provinsiale Pararegslui Organisasies en verskillende Nie-Regeringsorganisasies.

Die Regskliniek verbeter die lewenskwaliteit van die mense in die Provinsies van Noordwes en Mpumalanga deur middel van bogenoemde aktiwiteite.