Herakkreditasie: NWU se Baccalaureus in Regte-program (LLB-program)

 

Wat is die Nasionale Oudit waarvan almal praat?

Nadat die Standaardontwikkelings-verwysingsgroep bepaal het aan watter vereistes alle LLB programme wat in Suid-Afrika aangebied word, moet voldoen, is die LLB Kwalifikasiestandaard in Augustus 2015 afgekondig. Al 17 regsfakulteite moes hulself aan hierdie standaard asook die algemene akkreditasiekriteria vir tersiêre kwalifikasies meet. ʼn Selfevalueringsverslag moes ingedien word teen Mei 2016. Alle regsfakulteite is gedurende September en Oktober 2016 deur ouditpanele besoek. Die panele het bestaan uit akademici en ʼn verteenwoordiger van die RHO (Raad vir Hoër Onderwys). Nadat voorlopige verslae opgestel is en partye insette kon lewer, is die voorlopige uitkomste in April 2017 gepubliseer. Finale besluite aangaande akkreditasie word aan die einde van 2017 en 2018 verwag, afhangende van instellings se posisie.

Wie is betrokke en wie maak die besluite oor akkreditasie?

Raad vir Hoër Onderwys / RHO: Die RHO is ʼn onafhanklike statutêre liggaam wat gedurende Mei 1998 daargestel is kragtens die Wet op Hoër Onderwys 101 van 1997, soos gewysig. Dit funksioneer as die gehalteraad vir die hele hoër onderwys-sektor in Suid-Afrika kragtens die National Qualifications Framework Act 67 van 2008. Alle tersiêre kwalifikasies moet by die RHO en Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid (algemeen bekend as SAQA) geregistreer wees.

Standaardontwikkelings-verwysingsgroep: Verteenwoordigers van die meeste regsfakulteite het saam die LLB Kwalifikasiestandaard ontwikkel. Dit bepaal wat elke LLB program in die RSA moet bevat en wat die uitkomste moet wees wat betref kennis, vaardighede, toegepaste vaardighede, ens. Dit is in Augustus 2015 gepubliseer as ʼn mikpunt vir alle fakulteite.

Ouditpanele: Elke instelling het hul eie eksterne ouditpaneel gehad wat bestaan het uit ʼn voorsitter, drie regsakademici vanaf ander instellings plus ʼn verteenwoordiger van die RHO. Panele het bewyse wat die instellings gelewer het, gemeet teen die selfevalueringsverslag, die LLB kwalifikasiestandaard en algemene akkreditasiekriteria. Hulle het elke instelling vir drie  tot vier dae besoek. Hul het ʼn voorlopige verslag ten aansien van elke instelling opgestel wat voorgelê was aan die Nasionale Hersieningskomitee.

Nasionale Hersieningskomitee / NHK: Dit is ʼn spesialiskomitee wat die KGHO (Komitee vir Gehalte in Hoër Onderwys) tydens die oudit van programme bystaan. Dit bestaan uit agt tot tien lede waarvan die meerderheid uit die openbare hoër onderwyssektor is. Die voorsitter van die NHK is ʼn lid van die KGHO. Ouditpanele het hul voorlopige verslae voorgelê aan die NHK wat dit oorweeg het en voorlopige uitkomste geformuleer het. Dit is saam met die instellings se reaksies daarop (instellings se reaksies daarop was beperk tot feite-bevindings en -stellings in die voorlopige verslae) aan die KGHO voorgelê wat in April 2017 besluit het op die uitkoms van elke instelling se oudit.

Komitee vir Gehalte in Hoër Onderwys / KGHO: Die Wet op Hoër Onderwys maak voorsiening dat die RHO ʼn permanente subkomitee, die KGHO, moet daarstel. Die komitee se mandaat is die bevordering van kwaliteitsversekering in hoër onderwys, die oudit van hoër onderwysinstellings se kwaliteitsverskeringsmeganismes asook die akkreditasie van hoër onderwys programme. Die KGHO neem dus besluite rakende akkreditasie.

Het die oudit enige iets positiefs oor die NWU LLB opgelewer?

Beslis ja. Van die opmerkings in die verslag lui:

“The panel is satisfied that more than enough detail has been provided in the SER to confirm that the LLB programme meets the requirements for NQF exit level 8.”

“The panel is satisfied that the LLB programme at PC and at MC appropriately imparts to students a comprehensive and sound knowledge and understanding of South African law and its associated values and of its historical background. It is also satisfied that all of the basic areas of law, as listed in the LLB Standard, have been adequately covered.”

“The panel commends the two faculties for the introduction of a skills sub-programme, Language Skills in Legal Context, which is taught in six semester modules in the first three years of the LLB programme.”

“The panel is satisfied that the conceptualization and overall design of the programme sufficiently addresses the areas of applied competence listed in the LLB Standard.”

“Adequate physical resources (and, in the case of the two libraries, e-resources) exist at both PC and at MC for teaching and learning to take place.”

“The panel is satisfied that at both Potchefstroom Campus and Mahikeng Campus the LLB programme appropriately prepares graduates for entry into legal practice, into a wide range of other careers that require the application of law, and for postgraduate studies in law.”

Wat was die moontlike voorlopige uitkomste van die Nasionale Oudit van die LLB?

  • Geakkrediteer met aanprysing – geen regsfakulteit het hierdie uitkoms behaal nie.
  • Onvoorwaardelik geakkrediteer – geen regsfakulteit het hierdie uitkoms behaal nie.
  • Voorwaardelik geakkrediteer – 13 regsfakulteite het hierdie uitkoms behaal.
  • Kennis van intrekking (indien sekere aspekte nie bevredigend aangespreek word nie) – 4 regsfakulteite het hierdie uitkoms behaal.
  • Intrekking – geen regsfakulteit se akkreditasie is ingetrek nie.

Wat was die NWU se voorlopige uitslag en wat beteken dit?

Die NWU het kennis van intrekking (indien sekere aspekte nie bevredigend aangespreek word nie) ontvang, op grond van die volgende:

  • Ongelykhede in die programaanbiedings tussen die Potchefstroom- en Mahikeng kampusse.
  • Onvoldoende integrasie, veral wat betref rasse-integrasie op die Potchefstroomkampus.
  • Lae toelatingsvereistes met onvoldoende verdere studente steun.

Die uitkoms beteken akkreditasie van die LLB mag moontlik ingetrek word, indien aspekte wat problematies is nie na bevrediging binne ʼn tydsraamwerk wat na Oktober 2017 vasgestel sal word, aangespreek word deur die NWU nie.

Instellings wat dié kennis gekry het, moes elk ʼn verbeteringsplan opstel wat teen 6  Oktober 2017 ingedien moes word by die Raad vir Hoër Onderwys (RHO). Dit is gedoen. Die RHO sal met instellings kommunikeer aangaande die planne en aandui indien addisionele kwessies aangespreek moet word. 

In die plan word keerdatums aangedui vir implementering van die stappe wat in die plan voorgestel is. Die instelling se vordering word gemoniteer en wanneer die RHO tevrede is dat alle stappe geneem is of dat daar genoegsame vordering getoon is, word die kennisgewing teruggetrek en die program (her)akkrediteer. Indien die instelling nie hul verbeteringsplan implementeer nie, kan die akkreditasie van die program ingetrek word. In die geval waar die akkreditasie van die program ingetrek word mag die instelling vanaf daardie datum nie nuwe studente inskryf nie. Alle studente wat reeds ingeskryf is op die datum van terugtrekking van akkreditasie (algemeen bekend as pyplynstudente) sal egter steeds die program kan voltooi.

Is die probleme wat uitgelig is, kwaliteitskwessies?

Ja. Die NWU bied een LLB program aan en graduandi van alle afleweringspunte behaal uiteindelik dieselfde kwalifikasie. Die leerervaring van alle studente by alle NWU afleweringspunte moet dus van dieselfde standaard wees en alle studente moet ingesluit word by die leerervaring. Die NWU het ʼn plig om te besin watter applikante die beste kans staan om hul kwalifikasies suksesvol te voltooi en dan steun te bied aan diegene wat tot die program toegelaat word. Die NWU het self van hierdie aspekte aangespreek in die selfevalueringsverslag.

Hoe raak die LLB Nasionale Oudit se uitslag NWU-studente?

  • ALLE regsgrade IS en BLY geakkrediteer tensy 'n betrokke instelling se akkreditasie ingetrek word. Huidige studente in alle regsprogramme word nie geraak nie, hulle sal hul geakkrediteerde kwalifikasies voltooi.
  • Geen graduandi word geraak nie.
  • Die NWU mag, aangesien die LLB graad steeds geakkrediteer is, nuwelingstudente inneem terwyl die NWU onder kennis is en hulle sal hul geakkrediteerde LLB aan die NWU kan voltooi.
  • BA (Regte) en BCom (Regte) word nie geraak deur die kennis nie en daardie programme gaan normaalweg voort. Studente wat BA (Regte) en BCom (Regte) voltooi, sal solank die NWU onder kennis is, toegelaat word om vir hul LLB aan die NWU te registreer en dit dan te voltooi.
  • Die LLB sal ten volle geakkrediteer word indien die NWU se verbeteringsplan aanvaar word, die NWU dit volledig implementeer en alle doeldatums haal.
  • Indien die NWU nie die verbeteringsplan implementeer nie of nie doeldatums haal nie, kan akkreditasie ingetrek word. Die NWU doen alles binne haar vermoë om hierdie uitkoms te vermy. Indien akkreditasie ingetrek word, mag die NWU nie verdere studente inskryf vir die LLB as eerste of tweede kwalifikasie nie. Ingeskrewe studente op datum van intrekking (pyplynstudente) sal hul geakkrediteerde kwalifikasies voltooi.

Is dit waar dat regstudente die NWU gaan verlaat met ʼn “ongeakkrediteerde graad”?

Nee, dis glad nie die geval nie en enige bewerings tot dié effek is onwaar en kwaadwillig. Alle studente wat tans ingeskryf is asook die wat in 2018 vir die eerste keer registreer, se kwalifikasies is geakkrediteer. Die NWU se LLB is geregistreer by die RHO en Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid – sien http://regqs.saqa.org.za/viewQualification.php?id=22993

Beteken dit dat ek nou ʼn minderwaardige graad gaan ontvang?

Nee, glad nie. Die graad bly geakkrediteer. Dit is duidelik uit die paneel, wat die NWU besoek het, se verslag dat die NWU LLB wel aan al die wesenlike kriteria rakende programinhoud en programuitkomste voldoen maar dat daar belangrike aspekte is wat aangespreek moet word. Geen universiteit se LLB graad is onvoorwaardelik geakkrediteer nie. Dit beteken egter glad nie dat alle LLB grade in Suid Afrika minderwaardig is nie. Dit wil voorkom dat die rede waarom die NWU se LLB graad nie, soos in die dertien ander universiteite se geval, as voorwaardelik geakkrediteer aangedui is nie, is omdat die aspekte wat aangespreek moet word nie binne ʼn relatiewe kort tyd reggestel kan word nie en weens die unieke aard van ons multi-kampus instelling.

Wat doen die NWU tans?

Die NWU het konstruktief aandag geskenk aan die bevindings van die HOKK-beoordeling ten einde ʼn geskikte verbeteringsplan en –strategie te ontwikkel. Die plan is op 6 Oktober 2017 by die Raad op Hoër Onderwys (RHO) ingedien, en hulle het ontvangs erken.

Die drie belangrikste redes vir terugtrekking, naamlik ongelykheid tussen kampusse, gebrek aan wesenlike integrasie en lae toelatingsvereistes, gepaardgaande met onvoldoende ondersteuning van studente, is in besonderhede in die plan aangepak. Gedurende die strategieontwikkelingsproses waarby die NWU onlangs betrokke was, is die meeste van hierdie kwessies deeglik besef en planne is in werking gestel om dit aan te pak, daarom is bestuur vol vertroue dat die strategie en voorstelle wat in die plan voorgestel is met die besorgdhede van die RHO sal handel.

Die NWU het nog nie enige terugvoer ontvang nie, en dit is nie bekend wanneer terugvoer ontvang sal word nie. Sodra die inhoud van ons plan deur die RHO goedgekeur is, sal alle belanghebbers in kennis gestel word. Intussen gaan die fakulteit voort om die strategie soos hieronder uiteengesit, te implementeer.

Watter kwessies geniet aandag?

Ongelykhede tussen Mahikengkampus en Potchefstroomkampus: die nuwe fakulteitstruktuur wat op 1 Julie 2017 in werking getree het, maak dit moontlik vir die waarnemende uitvoerende dekaan en direkteure om heelwat van die oorsake van die ongelykhede aan te spreek en te bestuur. Institusionele kwessies word opgeneem deur die Universiteitsbestuurskomitee. Sommige ongelykhede is reeds uit die weg geruim – alle voorgraadse studente skryf reeds vanaf Junie 2017 dieselfde (summatiewe) eksamens op alle kampusse. Alle voorgraadse regstudente sal ook vanaf 2018 identiese studiegidse en voorgeskrewe handboeke gebruik en gelyke kontaktyd met dosente hê. Ander ongelykhede verg langtermynbeplanning en het begrotingsimplikasies, maar die NWU is vasbeslote om te verseker dat alle regstudente se kwalifikasies en akademiese omgewing voldoen aan die vereistes wat die RHO stel.

Onvoldoende integrasie: nuwe strategieë word tans ontwikkel om kwessies rakende uitsluiting van sekere studente en integrasie op alle kampusse aan te spreek. Die uitdagings op die kampusse verskil. Daar is met studente en personeel gekonsulteer oor sake soos taal, institusionele kultuur, transformasie en sosiale geregtigheid. Die NWU wil verseker dat alle studente vrye en gelyke toegang het tot en kan voordeel put uit die akademiese en intellektuele ruimtes waardeur instellings van hoër onderwys gekenmerk word. Besonderhede aangaande beplande stappe sal bekend gemaak word nadat die verbeteringsplan goedgekeur is.

Toelatingsvereistes en steun: die minimum APS-telling wat vereis word vir toelating tot die LLB en BA (Regte) is reeds opgeskuif vanaf 26 tot 28 vir 2018. Vir die 2019-inname sal ʼn minimum APS-telling van 30 vereis word vir toelating tot die LLB. Die ander toelatingsvereistes sal steeds onveranderd geld. Daar word beoog om vanaf 2019 ook ʼn uitgebreide LLB-program (oor 5 jaar) aan te bied vir studente wat addisionele ontwikkeling en steun benodig. Taakspanne in die fakulteit en institusioneel ondersoek verskillende kwessies wat geopper is rondom studente-steun en daar sal ook binnekort met onder meer studente hieroor gekonsulteer word.

Wat kan ek as student doen?

  • Woon asseblief vergaderings, wat deur die fakulteit gereël word, by en lug jou mening as jy daarvoor gevra word. 
  • Maak asseblief konstruktiewe voorstelle oor hoe die NWU die uitgewysde gebreke kan aanspreek. Stuur gerus ʼn e-pos met voorstelle aan LLB@nwu.ac.za as jy iets op die hart het.
  • Wees verdraagsaam teenoor alle ander studente, respekteer ander se menings en hul reg om hul menings te lug.
  • Wees sensitief vir jou medestudente se behoeftes, sienswyse, vrese, kultuur en waardes.
  • Doen navraag as jy twyfel oor enige iets – e-pos LLB@nwu.ac.za om die korrekte feite te kry.
  • Gee die korrekte feite deur aan familie en ander belangstellendes.
  • Wees die oplossing en nie die probleem nie.
  • Studeer harder as ooit om die beste moontlike uitslae te behaal

Wat kan ek as ouer of voormalige student doen?

  • Doen gerus navraag as u twyfel oor enige iets – e-pos LLB@nwu.ac.za om die korrekte feite te kry.
  • Gee die korrekte feite deur aan kollegas en belangstellendes.

Bitter of beter?

Ons kan besluit of ons bitter wil wees, om welke rede ook al, weens die besluit van die RHO, of ons kan besluit om hierdie as ʼn geleentheid te gebruik om die LLB aan die NWU verder te verbeter en te sorg dat die graduandi van die NWU Fakulteit Regte steeds uitblink in die regsprofessie. Die keuse is vanselfsprekend – ons wil beter wees as ooit tevore.